Skrywer: Marion Erskine
Hoofkarakters: Milanka Fouche (die uwe), Tillie Lombaard
Publikasie: 2020 (Queillerie)
Bladsye: 287 (sagteband)
Genre: Romantiese Komedie (maar dis nie vlak nie)
Inhoud: Teikenmark – Jong Volwassenes +. Geweld – slegs wat jy as leser wil pleeg teenoor sekere karakters. Seks – meer suggestief as bloosbaar. Taal – soms effens kras, maar geen lastering.
Gelees: 24 April 2021
Gradering: Kort Opsomming: Tillie het ‘n heel goeie lewe, dankie. Ja, sy werk haar oor ‘n mik as kelnerin in Mellville, en ja daar’s nie iemand spesiaals in haar lewe nie, en ja, haar beste vriendin Milanka ís highmaintenance, maar so ken Tillie haar, en Milanks het al vir haar báie beteken. Haar eksieperfeksie, #blessed vriendin Milanka.
Maar uhm… Sy’t nou nie verwag Milanka sal aandring sy wat Tillie is, moet sorg dat Milanka en Jacques se troue gereël kom nie!
Eensklaps is Tillie in ‘n warrelwind van warmlugballonne, dringende missed calls en uitheemse Milankabestellings: reënbooghoringperde, en ‘n Alice in Wonderlandtema, en en en… En dít terwyl Jacques eintlik aanvanklik Tillie se date was!
Soos Milanka ál meer op Bruidzilla begin trek, begin Tillie bemerk iets is nie pluis nie. Wat skuil agter Milanka se monstermondering? Sal sy en Jacques ooit gekerk kom – en sal haar vriendskap met Tillie dit oorleef?
Jan-Hendrik moet my nou maar verskoon, maar ek gaan nou my kerkskoene uitskop en op die tafel spring en kliphard sing:
“Lank sal hy lewe
Lank sal hy lewe!
Lank sal hy lewe in sy gloria
in sy glo-r-i-a
in sy glo-r-i-a!!”
Hiep hiep hoera! Marion Erskine, jou doring. Wat ‘n uitstekende boek. Die trane het geloop van lekker lag en lekker huil. Bruidzilla is nou glad nie die tipe boek wat ek sommer sal optel en my gemaklik gaan maak op die bank voor nie. Maar danksy die Facebook blad Lekkerleesboekrak, was ek net so nuuskierig om te sien waaroor die bohaai gaan soos daai Tannies af in die straat wie se kantgordyne sulke permanente voue het van al die geloerdery straat af. Die Tannies se bohaai was glad nie verniet nie.
Malinka en Tillie is al van Graad 1 af maatjies. Jip, dit is wel die holrug geryde verdeling van die treinspoor vriendskap, maar dit werk so goed en hoekom tog nou die wiel wil herontwerp? Jip, net so hol gery, is die een blond en kom sy met al die noodsaaklike Barbie vereistes en bykomstighede, terwyl die ander enetjie die vaalhaar Cindy is wat jy sommer by Peps kan koop met ‘n sak vol hand-me-downs. Weereens, dit werk. So moet nou nie gaan staan en karring nie.
Marion Erskine het dit reggekry om meer as net die twee stereo-tipe karakters in een boek saam te vat. Daar is die gay wedding planner met sy keffer-brakkie, die stok-in-die-hol Mevrou Doktor. Skuus, dis Me. Doktor. En natuurlik ook die lang, maer donker man waarop Tannie Carike en almal wat na haar gekom het, verlief is.
Maar as jy dink die storie is ook hol gery en niks anders as oppervlakkige vermaak nie, gaan jy jouself in die diepkant van die swembad bevind, sonder vlerkies. Hierdie boek is meer soos om in die getypoel te swem. Natuurlik weet jy wat om te verwag. Jy het allermins Bride Wars, BridesMaids, Beaches en Firefly Lane gesien. Jy gaan lag tot die trane rol vir Takkie en ‘n paar ander takhare, maar dan kom daar ‘n onverwagse getygolf en jou vooropgestelde idees gaan saam met jou bikini-toppie in die see verdwyn.
Meer gaan ek nie sê nie, want dan gaan die admin van Lekkerleesboekrak (waarvan Marion een is), my streng berispe en beslis van die tafel af jaag. Ek los julle vandag met hierdie wyse woorde. Ek vermoed dit was Ouma Mattie wat dit kwyt geraak het:
“Soms gaan dit egter nie soseer oor wat jy probeer doen nie, maar hoe mense voel wanneer jy dit doen.”
Diepkant. Sonder vlerkies.
Liefde Groete,
Elza se Ma