Die vrou in die blou mantel deur Deon Meyer

Posted August 15, 2020 by elzaread in Afrikaans, Boek Resensie / 4 Comments

 

Titel: Die Vrou in die blou mantel (Bennie Griesel #6)

Skrywer: Deon Meyer

Publikasie: 2017 
Bladsye: 121 (novelle)
Formaat: Sagteband
Gelees: 15 Augustus 2020
My gradering: 
Kort opsomming: Daar ver onder in die Kaapse nag steel iemand skilderye warop vroue in blou geklee is. En Kaptein Bennie Griesel droom van verloofringe, en sy kollega Vaughn Cupido bekommer oor sy commitment. En die private eye Billy de Palma, “narcissist, psycho, real arsehole”, is besig met sy gewone onheilighede. Maar hier bo in Sir Lowryspas lê ‘n vrou wat dit alles gaan verander. Sy is heeltemal kaal, uitgestrek by die groot uitkykpunt, haar kop na die noorde, haar voete na die suide. Iemand het haar liggaam mooi gerangskik en met bleikmiddel gewas om al die forensiese spore uit te vee.

Weereens – Hoera, hoera, hoera! Lank lewe Deon Meyer! Ek is bietjie laat vir die partytjie van Die vrou in die blou mantel, en het reeds die volgende partytjie vir Prooi bygewoon. Maar dit het beslis geen inbraak gemaak op die genot van eersgenoemde partytjie nie.

Ek sien die grootste kritiek vir die dun boekie is, die boekie is te dun. Snaaks genoeg was dit nou vir my tans net perfek. Tyd vir lees is daar min, om nie eens te praat van ‘n gemiddelde deurstop soos net Deon Meyer kan skryf nie. Die ou dun boekie was dus vanoggend vir my net lekker lees en sommer vinnig kant en klaar ook. Ek hoef dus nie deur die hele week se werk en dinge te worstel in smagting daarna om my boek klaar te lees nie. 

Ja, dit is anders om Deon Meyer in die minder bekende novelle formaat tee te kom en moet hom gelukwens met hoe uiters bekwaam hy dit aangepak het. Ons het glad nie die vrees en bewing waargeneem nie, Deon. Ek as Afrikaanse leser is maar net te dankbaar dat ons die ekstra 7000 woorde in Afrikaans kon kry.

Die storie-lyn het vinnig afgespeel en ja, dit sou ‘n uitstekende deurstop ook kon gewees het. Inhoud was daar beslis genoeg. Die aangehegde fototjie is van die Nederlandse kunstenaar, Carel Fabritius. Verder verklap ek niks. 

Dit was lekker om so vlugtig weer vir ou Bennie, Cupido en selfs vir Dik en Dun raak te loop. Nie tyd vir koffie nie, net ‘n vinnige verbystap.

Hierdie boekie het my net laat besef dat ek vinnig my prioriteite in orde moet kry en dit wat klaar moet kom, klaar moet kry. Vooooooor die nuwe Bennie Griesel ons eersdags op die winkelrakke verras.

Ek kannie wag nie! 

Mareli 


Ook deur Deon Meyer – Koors



Share the Meows
RSS
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
Instagram

4 responses to “Die vrou in die blou mantel deur Deon Meyer