Judaskus deur Rudie van Rensburg

Posted November 9, 2020 by elzaread in Afrikaans, Boek Resensie / 2 Comments

Titel: Judaskus

Skrywer: Rudie van Rensburg
Reeks: Kassie Kasselman #3 (ek maak dit sommer self op, maar dis dalk aanbeveelbaar)
Hoofkarakters: Kassie Kasselman, Rooi Els
Publikasie: Mei 2015 (Queillerie)
Bladsye: 332 (sagteband)
Genre: Misdaad
Inhoud: Teikenmark – Volwassenes. Geweld – afhangende hoe sterk jou maag is, redelik eksplisiet. Seks – meer suggestief as bloosbaar. 
Gelees: 7 November 2020
Gradering:   
Kort Opsomming: Iemand se beendere word gevind op ’n stortingsterrein . . . Skielik moet kaptein Kassie Kasselman nuut dink oor moordsake van jare gelede, en die moorde kom vinnig opmekaar. Tussendeur die aantreklike nuwe buurvrou wat Kassie aan die swymel het, en sy enorme posseël-meevaller weens nóg ’n sterfte, moet hy uitwerk waarom ’n geheimsinnige witboordjie-bende van binne uitgeroei word. Is dit dalk nié doodgewone bende-oorlog soos Kassie se kollegas glo nie? Wie kan die verraaier in hul midde wees − die een met die vlymskerp broodmes? Elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op, en Kassie en Rooi kan nie voorbly nie .

Ek het maar redelik onlangs by Lekkerleesboekrak op Facebook aangesluit en skielik gaan daar ‘n nuwe wêreld vir my oop. Halleluja! Ek het egter so ‘n bietjie inhaal werk om te doen hier. Ek het nou al ‘n paar Chris Karsten’s kaf gedraf, Irma Venter se ‘S’ reeks moet ek nou met boek 4 begin en Chanette Paul gaan een van die dae my beste maaikie wees. 
Judaskus is my eerste kennismaking met Rudie van Rensburg en Kaptein Kassie Kasselman. Ek het nou wel nie die eerste twee gelees nie (nog nie), maar man, ek hou van die mannetjie. (Ek verwys hier na Kassie. Rudie kan nou nie juis as ‘n “mannetjie” aangespreek word nie.) Met sy rooi windjekker en plat geroomde hare, is hy onpretensieus en dra hy nie homself halfpad dood aan bagasie nie. So hier en daar lees ons van sy bagasie raak, maar ou Kassie kan sy spoke goed in die kas hou met ‘n lucky en ‘n glas cream soda. 
Kassie is ‘n polisie kaptein by die Nuwlandse polisiestasie en speurtak. Sommer met die invalshoek is dit duidelik dat die span by hierdie stasie al ‘n wyle saam werk en baie vertroue in Kassie se vermoeëns het, sonder om aan hom baasspeurder status te gee. Dit was vir my as gereelde misdaad-leser, heerlik om ‘n span te “ontmoet” waar daar nie onderliggende spanning tussen ‘n paar groot kokkedore is nie, of te veel gekweste of dooie koeie in die sloot lê nie. Verfrissend! 
Die storielyn spring sommer dadelik boeiend, maar waterdig weg. Dit wil nogals gedoen wees om met meer as een storielyn en meer as een karater te gelyke tyd af te skop en die leser volg gemaklik sonder om terug te blaai of jou eie jy-beter-by-bly-bord hoef te skep. 
Ek moet nog gewoond raak aan die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse misdaad genre. Ek ken eintlik maar net vir Deon Meyer en verslind sy boeke soos ‘n honger leeu in die Kalahari. Irma Venter en Chris Karsten is nog redelik nuut op my radar.  Met die lees van Judaskus besef ek, ek hou van Afrikaans misdaad. Dalk moet ek myself net beter uitdruk, geen mens kan van ons misdaad hou nie, ek hou van ons misdaadfiksie. Dit is geloofwaardig, sal/kan/het moontlik gebeur en jy hoef glad nie te dink dis onwaarskynlik, of dankie tog dis net ‘n storie nie. Dit is ons realiteit. 
  • Huisroof in die helder maanskyn – ag, sommer in die helder sonskyn. 

  • Oeps, iets gaan verkeerd en iemand word vermoor – hel ja.

  • Ongenaakbare misdadigers wat slegs optree vir eie gewin – ek vermoed dis moontlik ‘n status simbool in Suid-Afrika. 

  • Boere-mafia wat vir jare onder die dekmantel woel en werskaf en meer as net katte maai – betwyfel dit vir geen oomblik nie.
  • Misdaad sindikate wat landswyd en oor die waters swendel – ek twyfel of ek hulle by name mag noem in hierdie skrywe sonder om uitgehaal te word in een of ander vorm.
  • Gebruik jou broodmes optimaal – ek vermoed daar bestaan moontlik wel so ‘n handleiding.
Ons misdaadfiksie hoef geen duit terug te staan vir internasionale misdaad en spannings literatuur nie. Inteendeel. Ek dink hulle kan hier kom kers opsteek. Met Eskom se samewerking, mag dit moontlik ‘n letterlike gebeurtenis in die nabye toekoms wees. 
Ek beveel beslis die Kassie Kasselman reeks aan en Judaskus kry ‘n gemaklike 4 sterre van my af. Ek wil graag kennis maak met Hans ook, so Rudie van Rensburg gaan nog ‘n rukkie op my radar wees. 
Net gou ‘n laaste stuiwer in die armbeurs. Hierdie boek se titel is een van die mees gepaste en veelseggendste titels wat ek in ‘n lang tyd raak gelees het. Wie ook al dit uitgedink het, bravo! 

Mareli 

Share the Meows
RSS
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
Instagram

2 responses to “Judaskus deur Rudie van Rensburg