Kanaän deur Sophia Kapp

Posted January 9, 2021 by elzaread in Afrikaans, Boek Resensie / 2 Comments

Titel: Kanaän

Skrywer: Sophia Kapp
Publikasie: April 2020 (Lapa Uitgewers)
Bladsye: 487 
Formaat: Sagteband
Lees: 08 Januarie 2021
Bron: My goeie Buurvrou
Inhoud: Volwasse (so paar lekker liefdestonele wat jou tone gaan laat krul)
Genre: Historiese Roman
Gradering: 
Kort opsomming: Sy is ‘n rykmansdogter uit die Engelse elite in Johannesburg; hy is ‘n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar wanneer Catherine se lewe in duie stort en sy alles verloor wat sy geken het, is Chrisjan daar om vir haar ‘n heenkome te bied. Op Kanaän word sy gekonfronteer met die wreedheid van die natuur, die vooroordeel van die Afrikanergemeenskap en die onverdraagsaamheid van mense wat anders dink as sy. Maar sy leer ook die kosbaarheid van die lente ken, van die goedheid van vriende, en boweal van die liefde wat so stil in haar kom groei het. Al wat sy nie weet nie, is hoe om die verlede ongedaan te maak sodat sy hierdie liefde waardig kan wees.


Ná verskeie topverkopers op haar kerfstok is Kanaän Sophia Kapp se eerste historiese roman. Onreg teenoor vroue wat sentraal gestaan het in haar vorige werk, brei in Kanaän uit na vooroordele gegrond op ras en geloof, na die pyn wat mense mekaar kan aandoen maar ook na die wonderwerk van goedheid wat genees.


As kind en jongmeisie, was daar sekere boeke en reekse wat ek oor en oor gelees het.  Ek vermoed ek het Keurboslaan kort duskant 12 keer gelees. Die hele reeks. Die Beste Spookstories van C.J. Langenhoven lees ek nou nog elke dan en wan. Liefdesverhale het dit egter selde tot op die weer-lees lysie gemaak. Met een groot uitsondering:

Ek het geen benul hoeveel keer ek Wag ‘n Bietjie deur Tryna du Toit gelees het nie. Duidelik genoeg keer dat ek veel meer as 20 jaar later steeds al die karakters en storielyn glashelder kan onthou. Wat ‘n ongelooflike lekkerte om my gunsteling liefdesverhaal nou weer raak te loop, gereïnkarneer in ‘n nuwe baadjie en ek kan amper nie glo ek sê dit nie – selfs beter. 
Ek twyfel of  dit juis Sophia Kapp se idee was om Wag ‘n Bietjie te laat herleef. Dalk weet sy nie eens van my groot gunsteling nie en is alles blote toeval. Ek gee in elk geval glad nie om nie en het dit geniet om al die ooreenkomste af te merk.
  • Titel van die boek, is die plaas se naam. Die buurplaas is die spreekwoordelike hondjie se halsbandjie. ✅ 
  • Stadsmeisie is in ‘n benarde posisie en behalwe vir die aantreklike boer wat sy sopas ontmoet het, is daar geen ander uitkoms as om in ‘n gerieflikheidshuwelik met die takhaar te tree nie. ✅
  • Stadsmeisie het vlamrooi hare en smaraggroen oë. ✅ (Die name verskil darem. Magrieta Niemeyer is nou Catherine Baker)
  • Boerseun is elke meisie op die dorp se droom en glad geen takhaar nie. Lank, donker met ‘n sterk kennebak en breë skouers. ✅ (Die name verskil weereens. Barry Retief is nou Chrisjan Cronje)
  • Boerseun kom met Stadmeisie, nou sy vrou, in die gemeenskap aan en sy word nie juis met ope arms verwelkom nie. ✅ 
  • Veral nie deur die blonde poppie op die dorp wat voel sy is uit haar erfreg, of erfman of iets, beroof nie ✅
Ek kan nog vele merkies maak, maar dan gaan ek die storie begin weggee en verseker in die moeilikheid wees by Lekkerleesboekrak. Ek moet dalk ook net nou noem dat ek vir jare geglo het dat ek met ‘n skaapboer in die Karoo gaan trou wat nes Barry Retief gaan lyk. Ek het wel die lang, donker, sterk kakebeen man gekry, maar hy is beslis nie ‘n boer nie en ons bly nie in die Karoo nie. 
Ek dink party stories is maar net meer blywend as ander. Of om dit nou regtig mooi te stel:
“Sommige stories is wyer as die tyd waarin hulle afspeel en meer werd as net die karakters wat daarin optree.”
Alhoewel albei boeke ten sterkste in die lekker-lees kategorie kan val, is die grootste verskil tussen die twee romans, die vlak van diepte en laat-jou-bietjie-dink-nê, skryfstyl. Wag ‘n Bietjie is uitsluitlik ‘n liefdesverhaal wat so wil-wil raak aan ‘n stereotipe gemeenskap en die onverdraagsaamheid van mense teenoor ‘n buitestaander. Met buitestaander bedoel ek natuurlik enige iemand wat nie lyk, dink, praat of bid soos jy nie. 
In Kanaän vat Sophia Kapp hierdie onverdraagsaamheid, kortsigtigheid en blatante onregverdigheid tromp op aan. Alhoewel dit seker hoofsaaklik as ‘n liefdesroman geklassifiseer kan word, word bogenoemde kwessies fyn, maar onmisbaar verweef in Katryn en Chrisjan se liefdesverhaal. Die wêreld geskiednis van daardie tyd (laaste twee jaar van WWII) neem ook sy plek in op internasionale en plaaslike vlak. Ek het meer as een maal vir my eie lang, donker, nie-boerseun gesê dat dit my tref hoeveel van ons eie geskiedenis ek feitlik ken, maar eintlik geen benul van het nie. Ons is maar ‘n interessant volkie met ‘n donker geskiedenis. Dat ons self, in vele gevalle, die donker kruite gekies het om in te kleur, word baie subtiel oorgedra in hierdie historiese roman. 
“Ons kan nie die wêreld regmaak nie, maar ons kan sorg dat ons in ons klein hoekie daarvan ordentlik leef.”
Ek het nou nie meer ‘n lees-weer lysie nie, daar is net te veel boeke wat ek graag nog vir die eerste keer wil lees. Miskien eendag as ek en my nie-boerseun oud en grys is, sal ek weer weer-lees. Ek is seker dat Kanaän verseker die lysie sal haal. 
Dit was my eerste kennismaking met Sophia Kapp, maar ons sal beslis weer kuier. 
Vir meer lesersindrukke oor die merkwaardige boek, lees gerus Amanda Claasen se resensie of loer bietjie by Lekkerleesboekrak om te sien wat lesers dink. 

Mareli 

Share the Meows
RSS
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
Instagram

2 responses to “Kanaän deur Sophia Kapp

  1. Jy het 'n boeiende resensie geskryf oor 'n puik boek. Interessant die ooreenkoms met jou ou gunsteling, wat ek waarskynlik ook iewers in my jong dae gelees het. Ek voel geëerd dat jy my blog inskrywing aanhaal.