Vywervrou-trilogie deur Chanette Paul

Posted July 18, 2020 by elzaread in Afrikaans, Boek Resensie / 0 Comments

Net so voor ek begin om lekker te gesels oor die vroue van Vywerbaai, moet ek eers gou bieg. Soos Corali se familie, is ek ook ‘n dopper en ons kan mos vreeslik lank en swaar dra aan ons vooropgestelde idees. Ek het laas met Chanette Paul te doen gehad toe ek een Kersfees uit blote verveeldheid my sussie se Romanza boekie gegryp het en langs die swembad gaan lê. Die boekie het in sy doel geslaag, maar met Romanza is waarmee ek van daardie dag af, vir Chanette Paul vereenselwig het.

Hoe op dees aarde is dit moontlik? Maklik. Vooropgestelde idees. Heel toevallig is dit een van die onderliggende temas (na my krannige opinie, en nee, hierdie gaan beslis nie ‘n literêre resensie wees nie) wat na vore kom in die Vywervroue. Of dit nou Lira is met haar begeerlike voorkoms (ons almal weet wat die vooropgestelde idee oor sulke mooi vrouens met denim kort-broekies is), of dit Mirre se man, Andre, in sy wolf-in-skaapsklere gewaad is, of Corali wat rou oor haar oorlede man en net swart en wit dra, vooropgestelde idees word geskep en geglo.
Net soos die Vywervroue, is ek vandag ook baie bly en dankbaar dat ek maatjies het wat aanhou karring en boeke onder jou neus kom indruk of in die poshokkie gooi (Ons mag niks onder mekaar se neuse druk nie, mense. Daar is ‘n epidemie daar buite).
“Vriendskap is net ‘n ander soort huwelik. For better, for worse. In sickness and in health” 
Ek was dus bevoorreg genoeg om die drieluik so direk na mekaar te lees. In hierdie grendeltyd, was dit soooo lekker om bietjie Vywerbaai toe te ontsnap en te deel in Lira, Mirre, Corali en Marilyn se lewens. Die 3 boeke is so verweef, daarom weef ek hulle ook sommer saam in een vywervrou-net. Vir die wat egter soos Fiona daarvan hou om lysies te maak en dinge op die “sosiaal aanvaarbare” manier te doen, hier is ‘n kort opsomming van al 3 boeke:
Vywervrou 1: 
 

 

Titel: Lira

Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: Lapa
Eerste uitgawe: 2019
Bladsye: 573
Kort opsomming: Lira kan feitlik enige gebreekte ding mooi of bruikbaar maak maar met liefdesverhoudings vaar sy minder goed. Veral waar daar kinders betrokke is. Sy het geen benul hoe om ʼn ma te wees nie. Tog het sy geglo sy sal iets kan uitwerk wat waarde toevoeg tot Frank en Debbie se lewe. Dit is egter die een upcycling-projek waarin sy jammerlik misluk het. Sy beland op Vywerbaai waar sy ʼn winkeltjie vir haar upcycle-produkte wil oopmaak. Die finansiële risiko’s wat sy neem is enorm en teenspoed bly nie uit nie maar sy bly vasberade – upcycle gaan sy haar lewe upcycle. Lira wen die kosbare vriendskap van drie eiesoortige vroue en die respek van ʼn vierde maar verloor haar hart aan die verkeerdste man denkbaar – een met ʼn sterwende vrou en ʼn kind wat Lira haat. Die legende van die vywervrou van Vywerbaai word die tema van Lira se winkel maar hou ook ʼn waarskuwing in: Ter wille van sy kinders sal ʼn man sy taaibosspies deur ʼn vywervrou se hart druk en haar visstert gaarmaak sodat hulle kan eet. Maar soos haar vriendin Corali sê: “Ons vywervroue laat ons nie fokken opvreet nie. Deur geen man vrou of kind nie.” Goodreads
 
Vywervrou 2: 
 

 

Titel: Mirre

Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: Lapa
Eerste uitgawe: 2019
Bladsye: 572
Kort opsomming: Hoe ontmasker ’n vrou die man wat haar aanrand sonder om die teiken vir sy wraak te word?

“Hy sal vir jou sê dit sal nooit weer gebeur nie, maar trust me, dit sal. As daardie membraan tussen selfbeheer en gewelddadigheid eers eenkeer geskeur het, word dit nooit weer heel nie. Dis soos ʼn maagdevlies. Jy kan nooit weer ʼn maagd word nie. Soos onskuld. As jy dit eers verloor het, kry jy dit nooit weer terug nie. En die aanrandings sal eskaleer. It is the nature of the beast.”
Mirre weet Marilyn is reg, maar ʼn Dreyer skei nie. En as sy hom aankla van huishoudelike geweld, sal hy nooit weer sy beroep as befaamde huweliksberader kan volg nie. Sy reputasie sal vernietig wees. En dít sal hy haar nooit vergewe nie.
Buitendien, sy verstaan waar die ‘beast’ in haar andersins sjarmante man vandaan kom. Maar sy weet ook dat sy volgende keer dalk nie ʼn aanranding sal oorleef nie.
Mirre gaan skuil by haar vriendin Corali op Vywerbaai, waar Boeta Naudé met sy vrou en drie seuns ook woon. Boeta, haar jeugliefde wat steeds haar hart in die holte van sy growwe bouershand hou. Goodreads

 
Vywervrou 3:
 

 

Titel: Corali

Skrywer: Chanette Paul
Uitgewer: Lapa
Eerste uitgawe: 2020
Bladsye: 573
Kort opsomming: Kan sy nog enige sin in die lewe vind as dit voel asof haar slagaar deurgesny is?

As jong, uiters begaafde kunstenaar sou Corali feitlik enigiets doen om haar kunstenaarskap voluit te kon uitleef. Daarom sou die kinders wat haar geliefde so graag wou hê hoegenaamd nie in haar lewe ingepas het nie. Haar ambisie en smagting na erkenning laat Corali uiteindelik tot die ondenkbare instem, al kos dit haar die man wat sy liefhet.
Vyf jaar later besef Corali eers hoe duur sy daardie erkenning gekoop het en hoe tydelik en vervlietend roem is. Ná jare in Frankryk en Engeland keer sy terug na Vywerbaai waar sy as kind vakansies deurgebring het. Die eensaamheid knel. Die verbod wat aan haar gestel is, versmoor haar. ʼn Swaard hang oor haar kop. Haar familie het haar afgeskryf. Alles wat vir haar betekenisvol was, het sy verloor.
Geleidelik begin die mense uit haar Suid-Afrikaanse verlede egter weer ʼn rol in haar lewe speel. Boeta Naude wat vir haar soos ʼn kleinboet is. Leon, die verinneweerde, afgetrede dokter met sy eie stryd en pyn. Mirre vir wie sy jare gelede onder haar vlerk geneem het, maar met wie sy kontak verloor het. Goodreads

Indien jy nog glad nie met die Vywervroue van Vywerbaai te doen gehad het nie, mag jy net dalk sit en kopkrap oor wat ‘n Vywervrou nou eintlik is, of waar Vywerbaai is. Ek lees vinnig en praat net so vinnig, as jy my pla terwyl ek lees, gaan ek jou moontlik ‘n vinnige, mompelende antwoord gee. Ek was dus reeds halfpad deur Mirre toe ek besef my man dink ek praat van “Flavourbaai” en die “Flavourvroue”.
Onskuldige fout, maar daar is tog meriete. Lirra sal bes moontlik enige vorm van rooi koeldrank wees. Mirre sal alle vorme van ‘n roos wees. Corali sal beslis ‘n lemmetjie wees (nie die menora een nie, die vruggie aan die boom of die lecol bottel op die rak).

 

Vywerbaai is ‘n fiktiewe plek sonder enige GPS koordinate en ‘n vywervrou is ‘n meermin. Moet haar asseblief nie verwar met die nimlike Ariel nie, o nee. Sy is veel meer as ‘n mooi gesiggie sonder ‘n stem en ‘n vurk om haar hare mee te kam.

 Hierdie meermin is meer as ‘n meermin en haar visstert is die oorhoofse tema van Vywerbaai. Sy het beslis nie sommer net haar pragtige stert opgegee sonder om die vreters daarvan ‘n duur les te laat betaal nie. Sy word die tema van Lira se winkel, van Corali en Thomas se kunswerke en die legende oor wat met haar gebeur het, is die “wake-up call” vir Mirre.
“Moenie jou stert laat opvreet nie. Deur geen man, vrou of kind nie.”
Die vywervrou delf in diep waters en vir elkeen van die hedendaagse ywervroue en hulle meermanne word sy ‘n eie-kennige karakter in hulle verhaal.
Daar is verskeie temas en lewenslesse in hierdie verhaal waaroor ons vir ure kan gesels oor ‘n bottel wyn. (Wyn is daar ook ‘n oorvloed van in al 3 boeke). Dit het my as vrou laat besef dat Marilyn se woorde baie waar is:
As daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat die lewe ‘n leerskool sonder sillabus is. Tensy jy die Tien Gebooie tel as voldoende leerplan.”
 
Ek hou baie van die Tien Gebooie ja, maar ek glo dat Die Liewe Vader geweet het ons gaan nog ander boeke ook kort om ons te leer van al die foute wat ons nie noodwendig self gaan maak nie. En as jy dit wel gemaak het, is daar altyd weer hoop. En ‘n vriendin met ‘n boek en ‘n glas wyn om te help.
Die Vywervrou trilogie kry ‘n gemaklike 5  van my en Elza. Nie omdat dit perfek was nie, juis. Dit was net perfek lekker om te lees.

Dankie Chanette! Kannie wag vir Marilyn nie.

 

 
Share the Meows
RSS
Follow by Email
Twitter
Visit Us
Follow Me
Instagram